Pierre Massyn

Die Peruviaanse grenswag was heeltemal uit die veld geslaan. Wat soek ‘n Suid-Afrikaner hier in die middel van nêrens by sy afgeleë buitepos in hierdie woeste deel van Suid-Amerika? Hy sou eerder ‘n Gaucho hier verwag het – die nomadiese Suid-Amerikaanse berede jagter-veewagters met hul kenmerkende bolleros en vangtoue op hul geharde en vlugvoetige ponies – as ‘n bleekgesig wat oënskynlik van Europese herkoms is.

“Buenos días señor”, groet hy my. Hierdie woorde moes eers insink. Sien, die afgelope vier maande het ek gewoond geraak aan die Portugese “Bom dia, Senhor”. Ons het deur die rivier geloop, ek en die Fransman. Vasgeklem in ‘n vergete oksel in ‘n noord-westelike uithoek van Suid-Amerika vloei die Rio Acre deur ‘n afgesonderde deel van die reusagtige woudvlakte bekend as die Mato Grasso. Ek was nou op ‘n smeltmunt waar die grense van drie lande bymekaar kom: Brasilië, Peru en Bolivië. Die Rio Acre is nie ‘n groot rivier nie. Vergeleke met die Amesone, was hy maar ‘n liggewig. Hy ontspring in die hoër-liggende platorand in die noordweste van Peru en dreineer saam met ‘n reeks ander oos-vloeiende riviere die noordelike voetheuwels van die Andesgebergte voor hy by die Purusrivier aansluit, wat op sy beurt naby Manaus deur die magtige Amesone ingesluk word. Dit was in die droëtyd, wat ons in staat gestel het om die Rio Acre in die versengende hitte te voet oor te steek. Die rivier se water was moddergeel en het soms tot net onder ons rugsakke gestyg. My rugsak het my aardse besittings bevat en my roesbruin baard het byna op my bors gehang en my verbleikte haardos sou Robinson Croesoe eer aangedoen het.

Ek het die Amesonerivier die rug toegekeer, waar ek en my Duitse kameraad Christoff maande lank in Parintins onder die beskerming van ‘n Katolieke priester, Padre Manuel da Gama gebly het en hom op sy bootvaarte na die afgesonderde communidades in die oerwoud vergesel het. Ek en Christoff se paaie het op Rio Branco geskei. ‘n Weermagpatrollie het ons bus kort vantevore gehalt. “Toda a bagagem fora!” het die offisier geblaf. Alle passasiers word beveel om uit te klim. Ons word deursoek. Dis toe dat hulle Christoff se mes gevat afgevat het. Dit het hom geruk; ek het hom jammer gekry, want ons het ‘n paar sakke sout saam opgeëet. En dis toe dat ek hom my kommando-sakmes uit Suid-Afrika gegee het: ‘n sakmes wat maande vantevore saam met my oor die Atlantiese Oseaan geseil het tot in Recife, Brasilië. Dieselfde soldaat wat Christoff se mes gevat het, het my ook gevisinteer – sonder om my twee messe te kry, waarvan een ‘n duursame Switserse leër-sakmes met ‘n vergrootglas was – ‘n afskeidsgeskenk van my vorige werkgewer.

Die soldaat was meer geïnteresseerd in die gringo se geld – veral die gesogte geldeenheid van dié van die Verenigde State van Amerika. Hy snuffel my karige besittings deur, beveel my kortaf om my geldsak oop te maak. Dit was die soort geldsak wat jy soos ‘n lyfband onder jou bo-klere dra. Sy oë het merkbaar groter geword toe hy die dollars sien. Hy het sy vingers deur die note laat gly, hulle strelend betas. Jy kon my beswaarlik destyds as “ryk” beskryf, maar dit was meer geld as wat hy in sy lewe gesien het. Ek kon sy gedagtes lees: “Gringo, ek kan jou nou hier in die oerwoud insleep en jou net daar skiet, en daar sal geen haan daarna kraai nie. Ek sal jou vir die pirana’s voer en hulle sal nooit jou liggaam kry nie.” Maar hy het nie, al kon hy. Die wes-grens van Brasilië was mynwêreld en dit was letterlik ‘n oorlogsone. Die myngroepe het hulself in kartels verdeel en hulle geen teenstand of vreemde aansprake geduld nie. Die militia het hulle geskaar by die mynbase wat hulle die beste betaal het. Dit was onverbloemde georganiseerde misdaad. Die woord korrupsie beskryf beswaarlik die omkopery wat die basis van hierdie verhouding tussen die owerhede en die myners bepaal het. Bendegevegte was aan die orde van die dag. Onderliggend aan dit alles was die kokaïen-bedryf. Die cocaplant groei natuurlik in Suid-Amerika en word veral deur die Indiaanse vroue bewerk.

Waar ek my in 1986 bevind het

Dit was die wêreld waarin ek my in Augustus 1986 bevind het. Ek was nie meer die flambojante woordvoerder van die wêreld se grootste uraanmyn nie. Ek was werkloos, sonder heenkome of enige onmiddellike vooruitsig op ‘n inkomste. Ek het boonop ook “geen vaste adres nie” gehad nie aangesien ek geen idee gehad het waar ek op ‘n bepaalde aand sou oornag nie. Behalwe vir ‘n handvol woudbewoners wat ek in die Amesones agtergelaat het, Suster Marines op Itacoatiara (2) en ‘n Fransman wat ek skaars twee dae vantevore terloops ontmoet het, het ek geen dooie siel op die massiewe Suid-Amerikaanse kontinent geken nie.

Ek het die Serge in Rio Branco ontmoet. Soos ek, was hy op sy eie persoonlike pelgrimsreis. Hy was straatslim, ‘n uitgeslape operateur uit die onderwêreld van Parys, nie iemand met wie jy sou neuk nie. Hy was seningtaai en het my laat dink aan sy landgenoot Henri Charriére van Papillon-faam. (3) Ek sou ook later agterkom dat hy ‘n savant was van die gewilde wit snuifpoeier – kokaȉene. En nou het ons saam deur die Rio Acre gewaad, uit Brasilië, deur die rivier tot in Peru. Toe ons uit Brasilië die Rio Acre te voet oorgesteek het, het ek uit ‘n land waar Portugees die amptelike taal is, die Spaanssprekende Peru betree…

Dis ‘n interessante verskynsel dat met die uitsondering van Brasilië, die hele Suid-Amerika Spaans as amptelike taal het. En daar is ‘n goeie rede daarvoor: dis die Verdrag van Tordesillas. Ek het die eerste keer die subtiele verskille tussen die twee tale agtergekom in die grensgebied tussen Brasilië en Peru. Een van die eerste verskille wat ek geleer het, dat die Portugees vir “wit” “branco” is, maar in Spaans sou dit “blanco” wees. Brood in Portugees is “pău” en in Spaans ‘n meer hanteerbare “pan”. Vir my was Spaans makliker om te leer, want ek het werklik gesukkel met die Portugees, onder meer omdat my vriende in die Amasones ‘n bykans-onuitspreekbare patois gebruik het. (Een oerword-woord wat ek wel onder die knie gekry het, was “rede”, uitgespreek “hegie”, oftewel hangmat – my “bed” die afgelope drie maande.)

Maar hoe het dit alles gebeur?

Dit het gegaan oor handel en meer spesfiek speserye. Inka-goud sou later ‘n bykomende faktor word in die wedywering tussen die vier Europese supermoondhede: Spanje (Kastilieë) , Portugal, Frankryk en Brittanje. In die die gloriedae van seil was die ontdekking van ‘n seeweg na die Ooste ‘n allesverterende ambisie. As jy ‘n seeweg na die Ooste kon vind, het jy onmiddellik kommersieël die hef in die hand gehad. Navigasiemiddele soos kaarte en data oor seeroetes is met die grootste geheimheiding hanteer want dit moes nie in die hande van jou mededingers val nie. Maar hoekom ‘n seeroete? Hoofsaaklik omdat die roete oorland na die Ooste deurspek was met gevare soos aanvalle op karavane. Buitendien was dit ‘n lang, uitmergelende reis en die oases met die lewegewende water was ver uitmekaar uit. Toe Konstantinopel in 1453 in Moslem-hande val, was dit ‘n ramp vir die handelsambisies van die Westerse Christendom. Daar was geen ander uitweg nie: ‘n seeweg na die Ooste moes gevind word! Die twee voorlopers in hierdie wedloop was Spanje en Portugal. Hulle was ‘n handelsoorlog met mekaar gewikkel. In seevaartgeledere soos by die navigasieskool op Sagres in Portugal, het ‘n idee begin posvat: seil wes om die ooste te bereik! En stelselmatig het die ontdekkingsreisigers in hul primitiewe skepies verder en verder langs die ooskus van Suid-Amerika afgekruip – op soek na ‘n deurgang van die Atlantiese Oseaan na die Stille Oseaan.

Spanje en Portugal se handels-ambisies in die Nuwe Wêreld het gelei tot openlike vyandskap tussen die twee lande. Die slotsom was dat twee (aarts)Katolieke supermoondhede mekaar aan die strot beetgehad het oor ‘n seeroete na die Ooste. Inmiddels was produkte soos rubber, hout en goud in Suid-Amerika – die kontinent in die pad van die weswaartse seeweg na die Ooste – handige meevallertjies vir die land wat uiteindelik koning sou kraai in die Nuwe Wêreld. Daar net een uitweg: die hoof van die Katolieke Kerk moes self ingryp.

Op 7 Junie 1494 fel die Pous Aleksander die Sesde sy oordeel in die Verdrag van Tordesillas, geteken deur die imperialistiese partye in die Spaanse stad met dieselfde naam. Die Atlantiese Oseaan en Suid-Amerika word verdeel! (4)

Pedro Álvares de Gouveia, beter bekend as Pedro Álvares Cabral, ontdek die land wat ons vandag as Brasilië ken slegs vier jaar later en eis dit terstond vir die Portugese kroon toe omdat dit ingevolge die Verdrag se bepalinge binne Portugese gebied val. (Cabral se geboortestad was Santarém, waarvan die dorp met dieselfde naam net stroomaf van Partintins is, waar ek myself gevestig het vir my persoonlike ekspedisies.) Brasilië, verreweg die grootste land op die Suid-Amerikaanse vasteland, word Portugees. Alle ander gebiede wat later onafhanklike lande sou word, was Spaans.

In 1520 ontdek Ferdinand Magelaan die seestraat wat die ontwykende verbindingsroete vorm tussen die Atlantiese – en Stille Oseane vorm. Die straat aan die onderpunt van Suid-Amerika dra vandag sy naam. Dis dalk heel gepas dat Magelaan ‘n dubbele identiteit gehad het nie: hy was ‘n Portugees in diens van die Spaanse kroon! En Portugees en Spaans is die amptelike tale in Suid-Amerika!

Ek en Serge het Cuzco bereik en saam die Inka-voetslaanpad aangedurf. Na ‘n verblyf van sowat drie maande in Cuzco – die antieke kulturele hoofstad van die Inkas (5) en ‘n ekspedisie na die Cerro Amboró oerwoud in Bolivië – het ek die Stille Oseaan by Lima bereik. Ek het Suid-Amerika van Belém by die mond van die Amesonerivier aan die Atlantiese Oseaan tot by die Stille Oseaan oorkruis. My transkontinentale odyssee was volbring toe ek my rou voete in die blou waters van die wêreld se grootste oseaan indompel. In 2023 seil ek van die einste straat van Magelaan na Los Hornos (“Kaap Hoorn”) wat ek presies op my 70ste verjaardag bereik. Suid-Amerika met al sy mistiek en robuuste, dog majestieuse skoonheid sal altyd onlosmaaklik deel van my lewe bly.

In Augustus 1986 was daar reeds ‘n oseaan tussen my en my vorige lewe. ‘n Obskure rivier met die naam Rio Acre in ‘n onbekende uithoek van Suid-Amerika was die finale waterskeiding…
* Pierre Massyn is ‘n oud-TV joernalis, avonturier en skrywer.

VOETNOTE
1. Hierdie rugsak is later op ‘n trein by Puno naby die Titicaca-meer gesteel. Dit het die skrywer letterlik met net die klere aan sy lyf gelaat.
2. ‘n Eiland in die Amesonerivier. Suster Marines was ‘n Rooms-Katolieke non in ‘n klooster wat haar oor my ontferm het.
3. Die legendariese Henri Charriére wat na die berugte Franse strafkolonie Guyana gestuur is roem en verwerf het met ‘n aantal gewaagde ontsnappings. Vergelyk ook La Guillotine Sec deur René Belbenoît.
4. Die kompleksiteit van die Verdrag maak dit onmoontlik om die bepalinge in detail binne die beperkinge van hierdie artikel, en die ruimte daarvoor, uiteen te sit. Dit word vir latere publikasie oorweeg.
5. Om liggaam en siel bymekaar te hou, het die skrywer Engels gegee – onder meer vir die kelners van die gewilde Paititi-restourant.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article