Kurt Van Vollenhoven, ‘n Baaise inwoner wat naam in die filmbedryf maak. Foto: KAILIN DANIELS


Kurt Van Vollenhoven, ‘n Baaise inwoner wat naam in die filmbedryf maak. Foto: KAILIN DANIELS

’n BAAISE inwoner is besig om naam te maak in die land se filmbedryf.

Hy is ’n lid van ’n produksiespan wat tans besig is met die vervaardiging van ’n Afrikaanse film, Soetendalsvlei, wat binnekort op die skerms gaan verskyn.

Kurt van Vollenhoven is deur die vervaardiger van die fliek, Gavin Esterhuizen, gevra om deel van die Dagbreek Produksies-span te vorm.

Met sy wortels diep in die Baai gegrawe, is Van Vollenhoven vasbeslote om sukses te behaal en terug te ploeg in sy gemeenskap.

Van Vollenhoven het in PE grootgeword, by die Hoërskool Pearson skoolgegaan en by die Nelson Mandela-universiteit (NMU) ’n diploma in elektriese ingenieurswese verwerf.

Daarna het hy film en TV-produksie by The Media Workshop en Footprint Media Academy studeer.

Sy passie om goeie stories te vertel, het Esterhuizen se aandag getrek.

“Ek het ’n boodskap via Linked-In van die vervaardiger, Gavin Esterhuizen ontvang. Hy het my uitgenooi om deel te neem aan die projek waarmee hulle tans besig is,” het hy gesê.

Die bekroonde regisseur Reghardt van den Bergh neem die regie van die fliek waar.

Die fliek is gegrond op ’n boek, Soetendalsvlei se Bruid – geskryf deur Alta van Niekerk – onder die skuilnaam Joey Jansen.

Die tema van die fliek is gegrond op die verhoudings en samewerking van ’n plaasgemeenskap met Afrikaner tradisies en hul dag-tot- dag plaasbedrywighede.

“Die film is ’n romantiese komedie en handel oor Olaff Reinhart, ’n boer van die plaas Soetendalsvlei. Hy is ’n gesogte oujongkêrel wat nog nie sy droomvrou ontmoet het nie, tot hy teen sy sin ’n modeparade saam met sy vriendin, Jani, bywoon waar die gesogte model Christine dadelik sy hart steel.”

Van Vollenhoven vertel dat die model haar gesig in ’n ernstige ongeluk, wat byna haar lewe eis, skend.

“Olaff Reinhart nader haar met ’n huweliksaanbod wat sy aanvaar en ’n kontrak word gesluit. Hiervolgens trou sy met Olaff, en in ruil vir ’n groot som geld, moet sy vir ’n tydperk van een jaar die rol van ’n verliefde Mevrou Olaff Reinhardt met oortuiging speel.”

Van Vollenhoven sê die filmbedryf is nie altyd so maklik soos dit lyk nie en harde klippe word gekou, maar hy bly positief en hoop om sy 10-jaar-plan te verwesenlik.

“In tien jaar het ek hopelik drie rolprente agter die rug, maar wie weet hoe die toekoms lyk? Al wat ek weet is ek volg die Here se pad vir my lewe.”

Van Vollenhoven moedig veral die jeug aan om geleenthede met albei hande te gryp.

“Weet waarvoor jy staan – as jy nie weet waarvoor jy staan nie, sal jy vir enigiets val.”

You need to be Logged In to leave a comment.