KYK | Baaise kerk spog met unieke ‘stadswoud’

Amper ’n halfeeu gelede het die NGK Kraggakamma hande gevat om die aarde om hul kerkgeboue in ’n unieke stukkie stadswoud te omskep.


Amper ’n halfeeu gelede het die NGK Kraggakamma hande gevat om die aarde om hul kerkgeboue in ’n unieke stukkie stadswoud te omskep. Mariska Spoormaker het dit gaan beleef.

’n Mens loop onder die blaredak van ’n stadswoud by die NGK Kraggakamma en jy vóél soos Paulus toe hy in Filippense 4:7 geskryf het: “En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou…”

Dit is ’n vrede wat die mooiste kerk of katedraal van baksteen en beton nie vir die skrywer kan bring nie, maar wel hierdie inheemse versameling bome in Fernglen, op die grens van die Baakensvallei. Formeel staan dit bekend as die Kraggakamma arboretum.

Die saadjie vir dié arboretum is in 1974 geplant toe die NGK Kraggakamma, nog vóór die kerkgebou opgerig is, reeds ’n tuinboukommissie in die lewe geroep het.

Etienne Weideman by van die inheemse bome wat hy en gemeentelede van die NGK Kragga-kamma 47 jaar gelede op en om die kerkterrein geplant het.

Etienne Weideman, destydse president van die OP se Veldblomvereniging en gemeentelid, was vir die eerste paar jaar die voorsitter van die tuinboukommissie. Die besluit is geneem dat slegs inheemse bome en struike aangeplant sal word.

Die mooiste van hierdie verhaal, wat 47 jaar later steeds vertel word, is dat vandag se versameling bome en plante (arboretum) op die kerkterrein moontlik gemaak is deur die ywerige samewerking van gemeentelede, aangevuur deur die passie van ds. Jan Viljoen, destyds herder van die gemeente.

Etienne verduidelik: “Die plante is versorg by verskeie gemeentelede se huise voor dit uitgeplant is op die kerkterrein. Die eerste bome, wat toe al een tot ’n meter en ’n half grootte was, is in September 1975 deur gemeentelede geplant. Soos wat spesies gevind of geskenk is, is daar later nog bome aangeplant.”

Vandag kan ’n mens, onvertroud met die kerk se “boomplantgeskiedenis,” wonder hoekom ’n hele ry bome dan feitlik reg langs die parkeergebied agter die NGK Kraggakamma geplant is.

Etienne glimlag. “In daardie tyd is die bome op die grens van die kerkterrein geplant. Die bome wat jy verder agtertoe sien staan, was toe nog munisipale grond. Die kerk het later jare dié oorskrydingsgebied by die munisipaliteit gekoop en ook daar inheemse bome en plante gevestig.”

Oom-Jan-se-bos

In sy handleiding Kraggakamma Arboretum (1998), skryf Etienne dat dié woud op die oorskrydingsgebied bekend moet staan as oom-Jan-se-bos omdat ds. Viljoen “hierdie onooglike gebied, waar groot klippe gestort was, in ’n nuwe jong bos ontwikkel het.”

Ds. Viljoen wat later jare ook die voorsitter van die kerktuin se tuinboukommissie was, het baie van die bome self geplant, meld Etienne verder in die handleiding. “Hy het van die latere aanplantings gedoen met behulp van saailinge wat hy self gekweek het.”

Broodbome maak ook deel uit van die NGK KraggaKamma se arboretum. Foto: Mariska Spoormaker

Dit is n vredevolle ervaring om in die NGK KraggaKamma se eie inheemse bos rond te loop. Foto: Mariska Spoormaker

As besoeker aan die arboretum jare later, dink hy met dankbaarheid terug aan ds. Viljoen en die ander “plantpioniers” van die kerk, want waar anders in die wêreld is ’n inheemse stukkie woud in ’n metropool te vinde? ’n Plek waar jy ’n onbeskryflike vrede tussen hoë bome kan ervaar?

Ook opvallend is dat daar geen heining of mure tussen die kerkterrein en die Voortrekker-terrein langsaan is nie – dis asof die vloei van inheemse bome net aanhou.

Etienne knik sy kop. “Die bouperseel is aan die Kraggakamma Voortrekker-kommando verkoop op voorwaarde dat net inheemse plante daar geplant mag word en dat geen heining of muur opgerig mag word nie. Die eerste bome en struike op die Voortrekkerterrein is in 1984 aangeplant.”

’n Gedeeltelike rede vir die honderd persent fokus destyds op inheemse plante en bome was omdat die owerhede destyds oorweeg het om ’n botaniese tuin die Baakensrivier tussen Framesdrift en William Moffett-weg te vestig.

“Dan sou ons tuine daarby aansluit. Maar dit het toe nooit gebeur nie,” sê Etienne.

Tog het die bome op die kerk- en Voortrekker-terreine bly groei en groei sodat daar vandag boomreuse soos dié van die geelhout, koraal, essenhout, besemtrosvy, witstinkhout, wildepruim en vele ander staan. Daar is selfs woudbome soos opregte (swart-) stinkhout en assegaai.

’n Knysna loerie vlieg rooivlerk oor ons koppe. “Hulle hou van die vruggies van die besemtrosvy,” merk Etienne op.

“Nagenoeg 80 verskillende soorte voëls is al hier waargeneem. Ook is daar Kaapse grysbokkies, bergskilpaaie, kolhase en muishonde hier opgemerk.”

Daar is op die oomblik sowat 131 bome in die arboretum, voeg Etienne by. “Die meerderheid kom van die Oos-Kaap. Dié 131 sluit in vyf boomaalwyne en broodbome. Sommiges, soos die Vanwykshout, ’n huilboom, worsboom, anaboom en ’n witsering, ens. is nie endemies aan die Oos-Kaap nie, maar kom wel voor in ander provinsies in ons land.”

Behalwe vir boomliefhebbers is daar heelwat mense wat gereeld met hul honde in die merkwaardige merkwaardige “kerkbos” kom stap. Net oor ’n honderd verskillende boomspesies is van houtbordjies voorsien wat die Afrikaanse volksnaam en die nasionale boomnommer bevat.

Om self daar te loop en stil te word in die vrede wat hierdie inheemse stukkie woud bied, is om te dink aan ’n gemeente en ’n passievolle herder wat 47 jaar gelede hande gevat en inheemse bome begin plant het vir die nageslag om dit te kan geniet.

“Dit is ’n lewendige monument, dit verander gedurig, daar is bome wat dood is, daar is nuwe bome geplant . . . maar die belangrikste is dit is daar vir die nuwe geslagte,” som Etienne die Baai se bosjuweel op.

In die NGK Kraggakamma hoef die besoeker nie oor bome se name te wonder nie danksy die gebrande houtbordjies by meeste van die bome.

You need to be Logged In to leave a comment.