Dit is nie cool om ander kinders te boelie, dwelms te gebruik of om ‘n gangster te wees nie.

Dis die boodskap wat die stoei-promotor Mark Beale (60), beter bekend as “The Weasel”, deesdae tydens motiveringspraatjies by skole aan kinders oordra.

Die Oos-Kaapse Departement van Onderwys steun sedert verlede jaar Beale, wat ‘n voormalige Suid-Afrikaanse rofstoeikampioen is, met sy inisiatief.

“Ek was in my jonger jare ‘n jeug-pastoor en het al in 1985 in die townships met kinders gewerk,” vertel Beale.

“Toe ek in 2015 die Wrestle Monster-promosie begin het, het ek sosiaal verantwoordelik gevoel om weer daardie soort ding voort te sit.

“Ek het gedink hoe ons as stoeiers ons deel kan doen vir die gemeenskap. Met respek gesê, kinders luister baie keer eerder na sporthelde as na predikers of politici, so ons klomp stoeiers het toe skole begin besoek en boodskappe van hoop begin uitdra.”

Die inisiatief het so gegroei dat Beale-hulle deesdae skole in byna die hele Oos-Kaap besoek.

“Ons besoek soms tot vier skole ‘n dag. As ons die eerste keer by ‘n skool kom, dan doen ons ‘n algemene praatjie vir ‘n groot groep kinders. Dan doen ons later ‘n opvolgbesoek waar ons met kleiner groepe werk en met die hulp van spesialiste op spesifieke probleme (byvoorbeeld dwelmgebruik) fokus,” sê Beale.

Tydens hul besoeke deel die stoeiers pamflette met kontaknommers van die polisie en sosiale wekers aan die kinders uit.

“Jy plant die saadjie by die kind en hoop in jou hart dat jy na van die kinders deurgedring het,” sê Beale.

“Dis soms hartverskeurende werk en mens is soms geskok oor die dinge waarmee die kinders worstel. Tieners wat swanger raak terwyl hulle byvoorbeeld nog in die laerskool is, sulke goed…”

Die werk met die kinders hou hom baie besig, maar Beale het darem goeie nuus vir stoeiliefhebers ook: “Die Weasel” is nog lank nie klaar met rofstoei nie en sal so lank hy kan aanhou om toernooie aan te bied!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article