Unsetteld, ’n besondere uitstalling wat nie net die Oos-Kaap nie maar die land verteenwoordig kan by die GFI-kunsgalery in Gqeberha besigtig word.
Tekstiel- of veselkuns is ’n medium wat jare lank veral met tradisionele kuns verbind word.
Tekstielkuns het egter ontwikkel tot ’n gesogte medium onder kunstenaars wat ’n nuwe uitdaging wou aanpak.
Tydens die uitstalling word die uitsonderlike idees, tegnieke en die kombinasie van tradisionele en kontemporêre kuns op ’n uitsonderlike manier weergegee.
Met die tema het die kunstenaars ’n geleentheid gekry om met verskillende visuele narratiewe, multimedia- kunswerke en installasiekuns te eksperimenteer.
Dit het hulle ook geïnspireer om op verskillende aspekte rakende die tema te reflekteer met die fokus op gebeure wat ontwrigting veroorsaak, ’n uitdaging bied of selfs ongemak verskaf.
Elke kunswerk vertel ’n unieke storie: van migrasie, verplasing tot persoonlike transformasie.
’n “Muurbehangsel” wat uit verskillende panele bestaan waarvan elke paneel deur verskillende kunstenaars geskep is, is een van die kunswerke wat mens sprakeloos laat.
Die uitstaande werk beeld Gqeberha tot by Addo uit. Dit is ’n fenomenale kunswerk wat ’n asemrowende eenheid vorm en verseker in ’n publieke ruimte uitgestal behoort te word waar ook besoekers van elders in die land dit sal kan besigtig.
Nie net verteenwoordig die werk die Baai en omliggende omgewing nie, maar is ’n bewys van die ongelooflike talent waaroor die Oos-Kaapse kunstenaars beskik, ’n spanpoging wat fenomenaal uitgevoer is.
’n Veselkunsportret is van Thuli Madonsela en drie proteas is een van die werke wat beslis ook noemenswaardig is. Die werk beklemtoon haar krag maar ook haar vroulikheid.
Die geskiedenis word telkemale uitgebeeld en self die vorige leiers is duidelik herkenbaar op die kunswerke. Dit is werklik uitsonderlik veral met in ag geneem dat die fynste detail met vesel uitgebeeld word.
Selfs xenofobie en renosterstroping word deur die kunswerke aangespreek.
Lede van Textile Art Port Elizabeth (Tape), die Keiskamma-kunsprojek sowel as nasionale tekstielkuns-groepe soos Textile Art Group Gauteng (Tagg), Textile Art Group Southern Cape (Tags), Fibre Artists Cape Town (Fact) en Fibreworks, sowel as verskeie ander kunstenaars neem aan die uitstalling deel.
Tape en die Keiskamma-kunsprojek speel ’n belangrike rol daarin om bewustheid en die bemarking van tekstielkuns in die Oos-Kaap te skep.
Dié vereniging is in 2019 gestig en verskeie Oos-Kaapse tekstielkunstenaars is lede daarvan.
Hulle stel ten doel om onder mekaar idees uit te ruil en sodoende die kunsvorm te ontwikkel.
Die Keiskamma-kunsprojek is ’n organisasie sonder winsbejag wat deel is van die Keiskamma-kunstrust in Hamburg in die Oos-Kaap.
Dié projek is op die been gebring om die holistiese nood onder die gemeenskappe wat langs die Keiskamma-rivier woon te takel.
Die kombinasie van ervare kunstenaars en met opkomende kunstenaars vorm ’n uitstalling wat die geskiedenis kunstig uitbeeld en eenvoudig nie gemis kan word nie.
Die uitstalling kan tot 16 Oktober by die GFI-kunsgalery in Parkrylaan in Gqeberha besigtig word.
Bel Carole Green by 076 026 7046 of stuur ’n e-pos na jimgreen@mweb.co.za vir meer inligting oor Tape se doen en late. Bel Michaela Howse by 084 400 5322 of stuur ’n e-pos na michaela@keiskamma.org vir meer inligting oor die Keiskamma-kunsprojek en -trust.