Winston Randall (51) wat ‘n gewilde lied oor die verval van sy grootword-woonbuurt, “So huil Noordeinde”, geskryf het. Credit: Verskaf

‘n Lied oor die verval van Noordeinde in Gqeberha, het ‘n plaaslike sanger al meer as 105 000 trefslae op die internet besorg.

Winston Randall (51) wat in Noordeinde grootgeword het, se video “So huil Noordeinde”, is al deur mense van oral in die wêreld gesien.

Hy en sy vier susters het met sy ouers, wyle Sydney en Ella Randall, jare lank in Crawfordstraat gewoon.

Op ‘n dag wou hy sy seuntjie, Liam (12), gaan wys waar hy grootgeword het. “Ek was gebroke toe ek die verval en agteruitgang in Noordeinde gesien het. Ons was altyd so trots op ons kom-vandaan-plek, maar daar was net oral hartseer en agteruitgang.”

“Ek wou my tydgenote wys wat daar aangaan, maar ook die munisipaliteit se aandag op die verval vestig.”

Winston wat deesdae saam met sy gesin in Glen Hurd woon, het toe met sy selfoon deur die buurt gery en die verval van die verskillende strate en geboue vasgelê.

“Hier waar ons in die strate en parkie gespeel het, was altyd ‘n gees van avontuur. Ons het dikwels teen die afdraende met ons kaskarre en rolskaatse gejaag.”

Hy het in sy klein tuisstudio met woorde, straatname, herinneringe, beelde en verlange rondgespeel – en toe sien “So huil Noordeinde” die lig.

“Ek het nooit gedink dat hierdie liedjie so baie trefkrag sou hê nie. Ek het veral oud-Noordeinders se kommentaar waardeer. Vreemdelinge het ook vertel hoe die liedjie hulle diep aangeraak het,” sê Winston.

Winston het by die Laerskool Excelsior in Noordeinde skoolgegaan. Hier het hy veral goeie rugby, tennis en krieket gespeel en aan atletiek deelgeneem.

Hy het ook ‘n bietjie kitaar gespeel, aan kunswedstryde deelgeneem en was in die skoolkoor.

By die Hoërskool Andrew Rabie het hy eerstespan rugby asook krieket gespeel, en aan atletiek en die kadetorkes deelgeneem.

“Ek het toe al kort liedjies in my kop gekry, meer kitaar begin speel en my eie rymelary begin uittokkel,” sê Winston.

Na skool het Winston verder studeer in ‘n elektriese en elektroniese rigting en het in ‘n stadium by een van die stad se grootste hotelle gewerk waar hy in bevel van die onderhoudspan was.

Hy het op vroeë pensioen gegaan na ‘n baie ernstige en lewensbedreigende siekte.

Winston het van jongs af saam met sy pa Sydney musiek gemaak. Hulle het beide kitaar en mondfluitjie gespeel en was deel van die Hanekam-orkes wat by verskeie geleenthede in die Oos-Kaap opgetree het.

Hy het by sy vriend Llewyllen Dowie geleer om lirieke en toonsettings te skryf. “Sonder sy hulp sou ek nooit sukses behaal het nie,” sê Winston. Sy eerste poging was ‘n Engelse lied “Africa Sunset”.

Met “So huil Noordeinde” het hy dag na dag gesien hoe die “Like”-knoppie in getalle toeneem.

En toe tref ‘n nuwe vlaag van inspirasie hom.

Sy vriende en familie het hom ook aangemoedig om ligter liedjies te skryf. En sy liedjies oor die Springbokke is ook gewild. Hy het ook ‘n paar gospelliedjies soos “Walk by Faith” en “U is die Lig” geskryf.

Hy werk reeds aan ‘n opvolg vir sy eerste liedjie oor Noordeinde.

“Ek werk soms aan vier nuwe liedjies tegelykertyd. Dit is nie so maklik om lirieke en wysies te laat inpas nie.”

Sy vrou Liesel (wie se nooiensvan Schreiber was) staan hom met vurige aanmoediging by.

Sy susters Debbie, Shirley, Lucille en Rosemary is ook baie musikaal en speel kitaar en klavier. Shirley speel ook die tjello.

“Musiek bring vir my motivering, krag en troos. En natuurlik voer dit my ook terug na kosbare herinneringe,” sê Winston.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article