Die Vicki Terblanche-moord in Oktober 2021 het skokgolwe deur Nelson Mandelabaai, en selfs die land, gestuur.
In ‘n onderhoud met Huisgenoot Ware Lewensdramas: Vlees en bloed, wat eersdaags op VIA te sien sal wees, gesels PE Express se verslaggewer Candice Bezuidenhout oor dié opspraakwekkende moord.
Tydens die episode praat Bezuidenhout oor die moord self, die beskuldigdes en alles wat tot dusver aan die lig gekom het tydens die hofsaak sedert die moord in 2021.
Vicki Terblanche se man, Arnold Terblanche, ‘n beskuldigde in die moordsaak, maak ook ‘n verskyning op die program.
Terblanche is vir die moord op sy vervreemde vrou in hegtenis geneem nadat haar lyk op 23 Oktober 2021 in ‘n vlak graf op Groenbossies in Gqeberha gevind is.
Maak seker jy mis nie dié tweedeel-seisoenfinale nie.
- Die eerste episode word Maandag, 17 April om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai. Episode twee word op Maandag, 24 April om 20:00 uitgesaai.