Dit het vier jaar geneem, maar ’n kat-eienaar het oplaas die regte vlekkie aan haar verlore kat se neus gesien en geweet dit ís haar vermiste Flekkie-kat.
Hoewel Teresa Olivier van Port Elizabeth dadelik haar vermiste kat herken het, was die kat se reaksie op haar stem genoeg om trane van blydskap te verseker.
Maar selfs nog blyer oor Flekkie se terugkeer is Maureen Jordaan, wat haarself vir sy verdwyning verkwalik het.
Jordaan, wat met sy verdwyning net om die draai van Olivier in Newtonpark gewoon het, het aangebied om Flekkie vir sterilisasie te neem nadat hy gereeld by haar kat gekuier het.
“Die aand toe ek hom by die veearts gaan haal, breek hy uit die mandjie toe ek hom in die motor laai en verdwyn soos ’n groot speld.”
Hoewel die veearts slegs sowat 10 km van Jordaan se huis is, het sy geweet die kans is skraal dat Flekkie sy weg huis toe sal vind.
Flekkie se foto is wyd en syd op sosiale media gedeel.
Vier en ’n half jaar lank het Jordaan volhard in haar soektog.
Oplaas het ’n deurbraak verlede Donderdag gekom nadat ’n vrou van Broadwood, sowat 3 km van die veearts, ’n foto van ’n kat op Facebook gedeel en gesê het die kat het homself by haar tuisgemaak. Sy wou weet of hy dalk ’n eienaar het.
Jordaan en Olivier het kort hierna die kat besoek en met groot verligting besef die soektog is verby.
Olivier sê sy het nooit moed opgegee nie en is dankbaar teenoor almal wat hom gevoer het terwyl hy op straat was. “Hy is vir nou onder huisarres totdat hy aan die gebied en aan Bain (haar ander kat) gewoond raak.”
Jordaan het op haar beurt eienaars van vermiste katte aangemoedig om nooit hoop te verloor nie en gevra mense moet asseblief adverteer as daar skielik ’n vreemde kat by hulle opdaag, want sy eienaar soek dalk naarstiglik na hom.
“Welkom tuis, Flekkie. My hart klop halleluja!”