Tinotenda ‘Tino’ Singe (19) met sy kitaar. Foto: Verskaf


TikTok-sensasie Tino is skaars 19 jaar oud maar sy kenmerkende bariton stem kraak soos ‘n sanger wat al 40 jaar lank in die kroeë speel.

Hy hanteer sy kitaar soos verlenging van sy arm en hy brul deur die lae note met ‘n intuitiewe gevoel vir elke noot en liriek.

Sy aanhangers op sosiale media het hom leer ken met covers van kunstenaars soos Jan Blohm en Spoegwolf, maar vir sy eerste enkelsnit het hy besluit om ‘n langarm treffer vry te stel wat die dansvloere van elke studenteburg gaan oorheers.

Die lied, getiteld “Kateriena Malherbe” is geskryf deur sanger en akteur Hennie Jacobs (7de Laan) en vervaardig deur Tertius Human van Coolerbox Studios. Die lied is effens tong-in-kies en vertel die storie van ‘n student wat ‘n bietjie lewenservaring opgedoen het danksy ‘n dame wat hy by ‘n koshuisdans ontmoet het.

Tino, oftewel Tinotenda Singe, is in 2002 in Harare, Zimbabwe gebore. As kleuter het hy saam met sy ouers na Suid-Afrika verhuis en hulle in Swellendam gevestig, en woon tot vandag nog op hierdie plattelandse dorp in die Wes Kaap.

Tino was op Laerskool Swellendam gewees. Hy het in rugby uitgeblink en was bevoorreg om ‘n rugbybeurs te kry en sy hoërskoolloopbaan by die Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal te voltooi.

Tino loof die mense in sy plaaslike gemeenskap en in die hoërskool wat ‘n goeie fondasie vir hom gelê het om die jong man te wees wie hy vandag is.

Hy het gegroei in geloof, uitgeblink in sport en baie goed presteer op akademiese vlak. Tino het ‘n studiebeurs van Klein Karoo Saad Produksies ontvang en is tans ‘n eerstejaar-student op die Landboukollege Elsenburg. Tino reken sy liefde vir landbou het hy by sy Oupa, Lee Dick, geërf wat sy lewe lank ‘n tabakboer in Zimbabwe is. Tino is ook in die onder 20’s-rugbyspan vir die Young Guns.

In gr. 11 was Tino gekies vir die skool se VRL (verteenwoordigende raad van leerders) én as koshuisprefek. Dit was juis in híerdie jaar, in 2019, wat Tino leer kitaar speel het.

As koshuisprefek was hy verantwoordelik vir toesig oor die gr. 10’s. Tino het ‘n moeilike taak gehad om ene Johan Balt stil te kry tydens studietyd, want Johan het eerder kitaar gespeel as studeer. Tino moes hom telkemale gaan stil maak, maar hy was onsuksesvol. Eendag het Tino vir hom gesê vir sy “straf” moet Johan hom dan leer kitaar speel.

Tino, oftewel Tinotenda Singe, het sy eerste enkel

Tino, oftewel Tinotenda Singe, het sy eerste enkelsnit, “Kateriena Malherbe” vrygestel.

Tino het ‘n kitaar gehad wat sy ouers die jaar vantevore vir hom gekoop het. Hy erken dat dit nie goeie maniere is om in die huis met oorfone op te wees nie, maar hy kon nie ophou musiek luister nie, verál Afrikaanse musiek. Sy ouers was nuuskierig waarna Tino heeltyd luister en hy het baie opgewonde die musiek met hulle gedeel. Sy ouers het die passie vir musiek wat soos ‘n vuur binne-in hom brand raak gesien en vir hom ‘n kitaar as geskenk gekoop.

Met die hulp van Johan Balt kon hy uiteindelik leer om kitaar te speel. Mettertyd het Tino geneurie terwyl hy speel en dit toe gewaag om die liedjies te sing.

Tino het grootgeword met Engels, Shona en Afrikaans in die huis maar het besluit om in Afrikaans te sing.

“Ek het verlief geraak op die taal. Ek was mal oor die verskillende genres. Ek het geluister na rock, boeremusiek en sokkie,’’ vertel hy.

Vriende was beïndruk met Tino se stem en het hom aangemoedig om dit op sosiale media te plaas. Tino het video’s op TikTok geplaas en spog tans met meer as 9 000 volgelinge en meer as 36 000 likes.

Ná sy aanlynsukses is Tino genader deur Zinta Kymdel van ZinK Events, wie hom aan Kobie Koen van Vonk Musiek voorgestel het.

Kobie het vir Tino studio toe gestuur waar hy “Kateriena Malherbe” saam met die bekroonde musiekvervaardiger, Tertius Human, opgeneem het. Human het toevallig ook al vir een van Tino se grootste helde, Jan Blohm vervaardig.

“Tertius is ‘n magician, hy kan letterlik iets uit niks uit maak en ek het ongelooflik baie by hom geleer,’’ deel Tino.

Die musiekvideo vir Kateriena Malherbe is ook nou beskikbaar en is vervaardig en verfilm deur Wian van der Walt en Rudolph de Wet.

Kliek hier om Tino op TikTok te volg.

@tino_musiek My ma is al op van my wat heeldag sit en videos maak. Steve Hofmeyr – Agter Elke Man #FYP #satiktok #afrikaans #music ? original sound – tino

You need to be Logged In to leave a comment.