Sewe jaar op laerskool, drie jaar as proefonderwyser, en meer as 40 jaar as onderwyseres, departementshoof, adjunkhoof en later skoolhoof – alles by een skool.
Vandag het Juffrou Lorna van Zyl vir die laaste keer haar rooi tas en haar dagboek ingepak. Die Laerskool Dr. Viljoen sê vandag, op 31 Julie, “Koebaai, Juffrou Zyl!”
Sy het vroeër vandeesmaand haar 65ste verjaarsdag gevier, en die skool het haar ook met ’n partytjie bederf op die dag.
Nou is sy gereed om die aftree-avontuur aan te pak.
Lorna se tyd by die Laerskool Dr. Viljoen het sowat ses dekades gelede begin toe sy as graad 1 leerder die skoolgronde betree het.
Haar pa was ook ’n laerskoolleerder by Dr. Viljoen en haar oupa was in haar tyd die sekretaris van die skool.
Jare ná sy haar laerskooljare hier voltooi het, het sy besluit om grondslagfase-onderwys te studeer.
“Ek het van kleins af juffrou-juffrou gespeel,” het sy vertel. “Ek het in al die drie jare wanneer ek moes proef, teruggekom na Dr. Viljoen.”
En toe sy begin aansoek doen vir poste ná haar studies, kry sy twee – een by die Laerskool Excelsior en een by die Laerskool Dr. Viljoen. Dit was nie eers ’n keuse vir Lorna nie. In 1980 het sy na haar alma mater teruggekeer om skool te gee en daar gebly tot vandag, haar laaste dag in die onderwys.
Sy reken die jare saam met die kleintjies het haar baie geduld geleer wat sy kon toepas as skoolhoof. “Ek wou aanvanklik nie aansoek doen vir hierdie pos nie. Ek sou op 63 aftree. Toe tree die vorige hoof af, hierdie pos word beskikbaar en ek moet waarneem want ek was die adjunkhoof,” vertel sy.
“My man het my aangemoedig om aansoek te doen. Op die ou end sê ek, ek het nog so ’n klein rukkie om te gaan. Gaan nou maar voluit tot die einde toe.
“Ek het op 1 September 2021 as skoolhoof begin. Ek weet ek het ’n verskil gemaak. Al was dit in ’n kort tydperk, kon ek my stempel afdruk.”
Moenie dink dit is die einde van haar óf haar familiegeskiedenis by die skool nie. Haar oudste dogter, Zitzke, wat ook ’n leerder by Dr. Viljoen was, gee ook skool daar. En Lorna het reeds gesê die skool moet haar bel as dit nodig is vir iemand om in te staan.
“Ek is jammer dat ek nie nog ’n bietjie langer kan aanbly nie. Die kinders lê my verskriklik na aan die hart. Dr. Viljoen se kinders is drukkie- kinders. Hulle het soveel liefde. Wanneer jy vanaand jou kop op jou kussing neerlê, kan jy weet dat jy vandag iets vir iemand beteken het. Dit is wat dit vir my spesiaal gemaak het.”
Haar tyd as skoolhoof het haar baie geleer. Nommer een was om nie vas te sit agter die lessenaar in die kantoor nie.
“Jy kan nie net in daardie stoel sit nie. Jy moet help papiere optel, help tafels dra. Jy moet saam met jou personeel hardloop. Al die admin sal ek nie mis nie, maar die skool definitief. Dit was my happy place vir baie jare.”
Haar hoogtepunt in die onderwys was in 2019 toe haar junior koor die gehoor- en mikroskool-toekennings by Sing in Harmonie gewen het.
“Ek glo ek het ’n verskil gemaak in baie kinders se lewens. Daar is baie kinders deur my hande. En dit is lekker om hulle te sien as hulle terugkom van die hoërskool af, en hulle kom sê hallo of dankie, of vra of hulle iets vir die skool kan doen,” het sy gesê.
Lorna beplan om vir die volgende ruk net rustig te wees voordat sy weer volspoed vorentoe beweeg.
“Ons het ’n strandhuis in Hartenbos en ek sal gaan kuier, maar ek sal nie soontoe trek nie. Ek bly net hier. Ek is hier gebore en getoë en altwee my meisiekinders is hier.
“Ek wil net eers bietjie afskakel, net vir twee weke. Ek wil net voel ek hoef nie vanoggend in my kar te klim en skool toe te ry nie.”
Sy is bly om nou weer tyd te hê om te bak en brou soos sy altyd gedoen het, vir joga, en tuinmaak en om bietjie koffie saam met ’n vriendin te gaan drink. Sy is die laaste in haar vriendekring om af te tree.
“Ek kan nou aan al hierdie dinge aandag gee, die dinge wat ek bietjie afgeskeep het. En ek wil ook net bietjie ma wees,” het Lorna gesê.
“Ek wil nog oud word. Daar is nog baie dinge wat ek wil doen.”
Vir die skoolhoof wat ná haar die stoel gaan inneem, het sy dit te sê: “Ek het altyd gesê, ’n mens volg nie in ’n ander se voetspore nie. Jy los jou eie voetspore na. So die volgende een wat kom, moet sy eie voetspore maak. Hou net aan en werk net hard.”
Lorna van Zyl is trots dat sy op ’n hoë noot kan afsluit by die Laerskool Dr. Viljoen en iets van haar tyd kan agterlaat vir die personeel en leerders.
In haar tyd is die leerders se badkamers opgekikker – “dit het nog gelyk soos toe ek hier begin skoolgaan het!” – en groot gedeeltes van die skool het ’n nuwe lagie verf gekry.
Sy is veral trots dat sy die das en die baadjie van ouds weer deel van die skool se uniform gemaak het.
Haar eie skoolklere hang nou in die gang buite haar kantoor.
“So voltooi ek my sirkel. Van ’n Sub A dogtertjie tot heel bo, by dieselfde skool, al die pad.
“Na 44 jaar en sewe maande is ek nie oor een dag spyt nie.”