Eikestadnuus

Mariëtte vang doktorale graad ná lewensreddende chirurgie

Dr. Mariëtte Botha het in Maart haar PhD in Spraak-, Taal- en Gehoorterapie ontvang, ná sy in 2021 ‘n nieroorplanting ondergaan het.

Dr Mariëtte Botha en haar broer Martin Mans. • ‘n Nier-skenking deur Mans het Botha se lewe gered en in haar in staat gestel om haar doktorsgraad te kry.
Dr Mariëtte Botha en haar broer Martin Mans. • ‘n Nier-skenking deur Mans het Botha se lewe gered en in haar in staat gestel om haar doktorsgraad te kry. Credit: Stefan Els

Toe dr. Mariëtte Botha haar eerste graad aan die Universiteit Stellenbosch (US) ontvang het, het haar pa, Tiny, gesê: “Jy gaan eendag daardie rooi doktorale toga dra.”

Haar woorde was profeties. Botha se droom het verlede week waar geword. Sy het haar PhD in Spraak-, Taal- en Gehoorterapie ontvang. Dit was ‘n hoogs emosionele dag toe die gesin almal bymekaargekom het vir haar gradeplegtigheid by die Coetzenburg-sentrum in Stellenbosch.

Geklee in haar rooi toga, het sy stralend gestaan. Sy was langs die persoon wat haar lewe gered het. Dit was haar jonger broer, Martin Mans. Hy het in 2021 sy een nier aan haar geskenk.

Botha het jare lank met die lewe voortgegaan sonder om te weet dat haar niere stadig besig was om haar in die steek te laat. Sy het altyd haar lae energievlakke aan die druk van die grootmenslewe, moederskap en akademiese eise toegeskryf.

Skokkende diagnose

Maar 11 jaar gelede het ‘n roetine-swangerskapstoets abnormale nierfunksie aan die lig gebring. Sy is met stadium 4-nierversaking gediagnoseer – die stadium net voor eindstadium-niersiekte.

“Ek was 32 toe die nierprobleem gediagnoseer is,” onthou Botha. “Ek het ‘n baie goeie swangerskap gehad, maar net nadat my seun gebore is, moes ek vir ‘n biopsie gaan. Die diagnose was ‘n skok, en daar was geen duidelike oorsaak nie. Daardie onsekerheid was moeilik om mee saam te leef – nie net vir my nie, maar ook vir my seun se toekoms.”

Sy het die skoknuus ontvang net vyf jaar nadat sy haar meestersgraad in spraak-, taal- en gehoorterapie aan die US voltooi het. Sy was vasbeslote om nie toe te laat dat die diagnose haar akademiese ambisies ontspoor nie, en het sy haar studies voortgesit terwyl sy haar gesondheid bestuur het.

Botha het vir ‘n gevorderde diploma in gehoorapparaat-akoestiek ingeskryf, en teen 2019 het sy vir haar PhD sy begin voorberei.

Maar halfpad deur haar navorsing het sy die oproep ontvang. “My nefroloog het gesê: ‘Jou nierfunksie staan op 10%. Jy het nou ‘n oorplanting nodig.’ Ek was verpletter. En dit was boonop in die middel van die Covid-19-pandemie.”

Met hospitale wat onder groot druk was weens die eerste golf Covid-19-infeksies, is Botha en haar gesin – wat toe in Gqeberha gewoon het – meegedeel dat hoërisiko-operasies soos hare slegs kon voortgaan as die pasiënt in dieselfde stad as die oorplantingshospitaal woon. Die gesin het dus hulle lewens ontwortel en tydelik na Kaapstad verhuis.

Dié skuif het dit vir haar moontlik gemaak om ‘n operasie by die Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal te ondergaan onder die sorg van die bekende oorplantingchirurg prof Elmin Steyn, hoof van chirurgie by die US se Tygerberg-kampus.

‘n Leweredder

Maar die operasie sou nie moontlik gewees het sonder een buitengewone geskenk nie – haar broer, Martin, ook ‘n US-alumnus, was ‘n perfekte skenkerpasmaat.

“Ek raak nog steeds emosioneel as ek daaroor praat,” sê Botha tussen trane deur. “Hy het sonder enige huiwering net eenvoudig aangebied. Dit is iets wat ek nooit kan terugbetaal nie.”

Die broer en suster is op 6 April 2021 in die hospitaal opgeneem vir die oorplantingsoperasie. Hulle het die aand voor die operasie saam in ‘n hospitaalkamer deurgebring, ‘n oomblik wat sy as “ongelooflik emosioneel” beskryf.

“Ek was vinnig by hom nadat die nier verwyder is. Dit was so traumaties om hom so kwesbaar te sien. En toe moes ek volgende ingaan.” Die oorplanting self was suksesvol, maar komplikasies het ingetree nadat haar long per ongeluk gedurende ‘n riskante narkoseprosedure platgeval het.

“Ek kon nie asemhaal nie. Hulle moes ‘n borsdreineringspyp sonder algemene narkose insit. Dit was uiters pynlik. Ek was vir meer as ‘n week in die waakeenheid. En weens Covid-protokolle kon ek daarna nie eers my broer sien nie. Ons was besig om in dieselfde hospitaal te herstel, maar was apart.”

Onwrikbare ondersteuning

Die hele tyd het hulle pa en ma, Hermien, angstig op ‘n afstand gewag. “Ons is hulle enigste twee kinders. Hulle moes van ons albei buite die saal afskeid neem en is nie weer by ons toegelaat nie. Ek kan my nie indink hoe erg dit vir hulle was nie.”

Martin se vrou, Michelle, was ten tye van die oorplantingsoperasie swanger, maar het gekies om hom eers ná die operasie te vertel – uit vrees dat die nuus sy stres sou vererger. “Hierdie oorplanting het die hele gesin geraak,” onthou Botha. “Dit gaan nie net oor die skenker en die ontvanger nie. Die rimpel-effek is groot.”

Ondanks die ongemak en emosionele tol, het Botha standvastig gebly in haar akademiese fokus. “Ek was vasbeslote om nie ‘n blaaskans te neem nie. Ek het twee maande ná die operasie weer begin loop en werk. My werk het vir my ‘n doel gegee en my ondersteuningstelsel – my ongelooflike studieleier, dr. Berna Gerber, my gesin en veral Martin – het my krag gegee. Ek kon my PhD binne die voorgeskrewe tydsraamwerk voltooi.

“Ek sal my mediese span, my geliefdes en bowenal Martin ewig dankbaar bly. Hy het my meer as net ‘n nier gegee; sy skenking het my die geleentheid gegee om klaar te maak met dít wat ek begin het. En daarom sal ek nooit ophou om daarna te streef om ‘n verskil te maak nie en ek hoop om ander te inspireer wat groot struikelblokke moet oorkom terwyl hulle studeer.”

Haar navorsing

Botha se doktorale navorsing het op die ondervindings van spraak-taalterapeute en versorgers in oorkruislinguistiese en oorkruiskulturele kontekste gefokus. Dit is ‘n onderwerp wat haar na aan die hart lê.

“Ons het 12 amptelike tale in Suid-Afrika. Die meeste spraakterapeute is steeds Afrikaans- of Engelssprekend, en daar is ‘n behoefte aan meer kultureel- en taalkundig-responsiewe praktyke. My studie het praktiese riglyne gelewer wat ek hoop terapeute sal help om hulle kliënte meer doeltreffend te bedien.”

Vandag floreer sy. “Ek voel soos ‘n nuwe mens. Ek het energie, ek oefen vyf dae per week. Ek is nou ‘n landloper. Ek het van nul na 100 gegaan!”

In ‘n roerende gebaar het sy haar proefskrif aan Martin opgedra. “Dit sou nie sonder hom moontlik gewees het nie. Ek wil hom, en alle orgaanskenkers, vereer vir die ongelooflike geskenk van lewe.”

Botha is passievol daaroor om groter bewustheid oor orgaanskenking te skep. “Mense moet weet watter verskil dit kan maak. Ek was gelukkig – ek het ‘n skenker in my familie gehad. Nie almal het dit nie.”

  • Om meer uit te vind oor hoe om ‘n orgaanskenker in Suid-Afrika te word, besoek die webtuiste van die Orgaanskenkerstigting van Suid-Afrika by odf.org.za, of skakel 0800 22 66 11.

You need to be Logged In to leave a comment.