In Nelson Mandelabaai het ’n digter, ’n komponis/musikant en mezzo-sopraan, elkeen ’n meester in eie reg, hul talente saamgevoeg en ’n magiese produksie die lig laat sien.
Die titel is sag praat van hierdie lewe en is ’n sangsiklus, gebaseer op die werke van Vincent Oliphant, ’n digter wat al veertig jaar lank diep tref met sy temas oor menslike emosies soos wanhoop, vrees, liefde, romantiese verlange en droefheid.
Die toonsetting van sy gedigte in sag praat van hierdie lewe, wat nou ook op CD beskikbaar is, kom ’n lang pad wat in ’n kort storie vertel gaan word sodat die leser kan verstaan hoe die lewe ’n manier het om mense se paaie te laat kruis sodat daar eendag ’n unieke produksie gelewer kan word.
Die ander twee kunstenaars in dié produksie is dr. Rudi Bower, musiekdosent aan die Nelson Mandela Universiteit en Lucretia Sikwebu, mezzo-sopraan en sangonderwyser by die Hoërskool Linkside.
Die storie gaan só:
Rudi was nog ’n leerling by die Hoërskool Andrew Rabie toe hy Vincent Oliphant se gedigte voorgelees en die musikale tussenposes met ki-taarmusiek moes verskaf. Lank hierna nog het Vincent se skeppings deur Rudi se kop bly draai, maar musiekstudies, loopbaan en gesinslewe het dit begin verdof.
So vyf jaar gelede het Rudi ’n huiskonsert aangebied waartydens Lucretia bestaande toonsettings van Afrikaanse digters se werke sou sing.
“Ek het toe aan Lucretia genoem dat dit eintlik lekker sou wees om tussen die liedere gedigte te lees. Sy het dadelik voorgestel dat ons Vincent Oliphant, wat sy persoonlik baie goed ken, hiervoor nader.
Lucretia se voorstel het Rudi se hoërskool-ervaring met Vincent se werke in herhinnering geroep en hy het gretig ingestem.
“Met dié aand se konsert was ek weer opnuut stomgeslaan in hoe aandoenlik mooi Vincent se werk is. Vandaar was die idee om weer iets saam te doen, nog altyd in my agterkop. Sy werk het eenvoudig gevra vir meer uiting, en vir uitdrukking in ander kunsvorms, soos musiek.
“Die tyd het egter aangestap en, soos wat maar met ons almal gebeur, het ek weer besig geword met ander dinge. Totdat ek weer Vincent so drie jaar terug geskakel het met die idee om dalk ’n grootskaalse werk soos ’n sangsiklus te komponeer waarin sy werk kan vertoon word,” vertel Rudi.
Rudi en Vincent het ’n hele paar keer ontmoet om met idees rond te speel. Rudi het ’n sang- siklus, wat handel oor ’n spesifieke storie met spesifieke karakters, in gedagte gehad, maar Vincent het gevoel dat dit iets meer abstrak sou moes wees – iets wat veranderende lewensfases in die mens se lewe uitbeeld.
“Dus, verskaf die 12 gedigte/liedere van die CD sag praat van hierdie lewe ’n uitbeelding van verskillende lewensfases en al die pyn, plesier en ervarings wat daarmee gepaard gaan. Dit verken temas soos oorspring, geluk, liefde, teë-spoed, verlies, vergifnis en versoening,” sê Rudi.
Vir hom was daar ook geen twyfel dat Lucretia Sikwebu die enigste sopraan sou wees, en gevolglik het Rudi die toonsettings van die gedigte in oorleg met haar gekomponeer.
“Die proses was tydsaam, dit was ’n groot-skaalse werk, maar ek is baie bly dat ons na twee en ’n half jaar op ’n punt kon kom waar ons eindelik die CD kan uitreik. Die proses was egter baie betekenisvol, bevredigend en inspi-rerend. Dit was ’n absolute voorreg om weer met twee kunstenaars te werk waarvoor ek die wêreld se respek het.”
Die kalmte van diepliggende wedersydse res-pek vorm só ’n band tussen Lucretia, Vincent en Rudi, dat die verslaggewer as ’n soort van “binnekommer” gevoel het, een wat gemakliker sou voel om deel van ’n gehoor te wees met Lucretia as uitvoerende kunstenaar en Vincent se twaalf gedigte in die hand.
Kom daar optredes?
“Voorlopig nie,” antwoord Lucretia, “die pandemie gooi alles ’n bietjie agterstevoor. Ons sal kyk in die nuwe jaar hoe dit gaan en dan kan ons daaroor besluit.”
Maar hoekom sag praat van hierdie lewe nog op CD sit, hoekom nie digitaal soos iTunes wat afgelaai kan word nie?
“Die doel van hierdie produksie was om iets fisiek te hê,” antwoord Rudi, “Dit is waar. Ons beweeg in die rigting dat musiek net van die internet afgelaai kan word, maar hierdie sag praat van hierdie lewe is net té spesiaal om in die kuberruimte rond te dryf.”
Hoe voel Vincent daaroor dat sy gedigte in hierdie spesiale produksie getoonset is?
“Baie mense vra my ‘Kan jy geld maak uit ge-digte?’ dan sê ek nee. Die grootste beloning wat ’n mens kan kry, is om te weet daar is iemand daar buite wat dit gelees of daarna geluister het en dit waardeer,” sê Vincent.
Wen! Wen! Wen!
*Twee gelukkige PE Express-lesers kan elk die CD sag praat van hierdie lewe wen deur die volgende twee vrae korrek te antwoord.
1. Wie se gedigte is vir sag praat van hierdie lewe getoonset?
2. Wie is die sangeres?
WhatsApp jou antwoorde, asook jou naam en van na Leonette Bower by 083 282 7372. Die eerste twee wat korrek antwoord, ontvang die CD. Lesers wat die CD wil koop, kan Leonette by dieselfde nommer bel.


