Michael Green se nuutste boek vol rugbystories

Die joernalis en skrywer, Michael Green, is tans woonagtig in Richmond Hill in Gqeberha. Sy nuutste boek, Die Stryd van die Reuse, word bekendgestel op Woensdag, 27 November, om 18:00 by Union Olympics Klub in Parkrylaan, St. George’s.


Die joernalis en skrywer, Michael Green, is tans woonagtig in Richmond Hill in Gqeberha. Sy nuutste boek, Die Stryd van die Reuse, word bekendgestel op Woensdag, 27 November, om 18:00 by Union Olympics Klub in Parkrylaan, St. George’s.

Green is ’n veelsydige skrywer en oor die jare, tussendeur sy joernalistieke loopbaan as sportjoernalis vir Beeld, Huisgenoot, Die Transvaler en Die Burger en redakteur van Loslyf, het hy ook bekendheid verwerf as skrywer van boeke, kortverhale en gedigte. Van sy uiteenlopende werke sluit in, onder andere, komiese liefdesverhale en parodies op rillers, realistiese verhale, sowel as dié verweef met die bonatuurlike.

Die oorsprong van sy liefde vir verhale kom uit die mond van sy Oupa Joe wat van kleintyd af lekker verhale kon vertel. Maar hy het ook inspirasie geput uit sy ma en Ouma Kowie se manier van stories vertel wat die res van die familie vasgenael laat sit en luister het.

“My ma, ’n oopkopvrou wat haar kinders laat vlieg het, het my ook van kleins af aan die wonderwêreld van boeke bekendgestel en ek het van vroeg af wyd gelees.”

Green se eerste boek en prosawerk, Die Hol Gevoel, is na 35 jaar weer onlangs herdruk en het met ’n splinternuwe voorwoord en naskrif op die rakke verskyn.

Op my vraag oor hoe dit hom laat voel na soveel jare, antwoord hy: “Dit het my laat besef hoe mal mannetjie ek daai tyd was! Maar dis ook lekker dat die boek nou vir ’n ander generasie daar is om te lees. Ek dink die spesiale voorwoord en naskrif wat ek geskryf het maak dit meer insiggewend.”

Dit is geen geheim dat Michael en Gareth Green, pa en seun, ’n gedugte span maak nie. Gareth het nie net Die Hol Gevoel se nuwe voorblad ontwerp nie, maar hy en sy pa het al saamgewerk aan vele interessante projekte wat musiekvideos maak en liedjies skryf insluit. Michael het selfs al sy lyf akteur gehou en vertolk die rol van die pa in Gareth se kort film, genaamd My Pa die Alien, waaraan daar op die oomblik gewerk word.

“Ek en Gareth is vriende wat mekaar ook lekker kan hap, maar ons het daai belangrike wedersydse respek wat ek glo ’n pa en seun en beste vriende moet hê,” merk Michael op.

Soos in die geval van Die Hol Gevoel, skryf Green al jare lank fiksie onder die skuilnaam, R R Ryger. Die verskeie redes vir die pseudoniem neem hom weereens terug op die paadjie die verlede in.

“Daai tyd toe my eerste boek gepubliseer is, in 1989 rond, was dit mode om funny name te gebruik. Ek was ook ’n jong sportskrywer en het gedink dit sou beter wees om ’n ander naam te kies vir die wilde boeke wat ek skryf. Ook, ek het gedink as iemand sien Michael Green het die boek geskryf, sou hulle dink dis ’n vertaalde boek na Afrikaans.”

Die laaste rede, in sy eiesoortige sin vir humor, laat mens lag. “Ek het ook van die naam gehou. R R Ryger ryg sy derms uit!”

Vir Green was dit nog altyd belangrik om eerlik te skryf. Wikipedia beskryf Michael as ’n ‘alternatiewe skrywer’ maar self sien hy hom nie so nie. “Ek sien myself maar net as ’n skrywer.”

In sy nuutste bekendstelling en dertiende boek, Die Stryd van die Reuse, skryf hy onder sy regte naam en vertel hy ’n hele klomp ware rugbystories uit sy loopbaan wat onderhoude met rugbyhelde insluit, komiese sowel as roerende vertellinge en verdere lekker rugbyverhale. Green glo dat rugby vir almal bedoel is en deel, uit sy unieke oogpunt, vele staaltjies in sy boek oor skole- en klubrugby, sowel as die Springbokke. Lank terug se rugbylegendes word onthou, asook huidige, bekende spelers kry ’n kans om hulle sê te sê.

“Ek was so gelukkig om vir baie jare ’n sportskrywer te wees. Dit was en is steeds pret. En die rugbyboek Die Stryd van die Reuse, wat nou onder my eie naam uit is, is ’n logiese uitvloeisel van my werk.”

Die Stryd van die Reuse sal rugbyliefhebbers en sportaanhangers definitief nie teleurstel nie. Soos die gerekende en gesoute sportskrywer self sê: “As dit by skryf kom is die groot ding vir my vermaak.”

Die boek is landswyd by die meeste boekwinkels beskikbaar, asook by Takealot, sowel as by die uitgewer, Wordslingers, via charl@wordslingers.co.za of kontaknommer 063 604 4701 (Charl Pretorius).

michael green

‘Die Stryd van die Reuse’ word bekendgestel op Woensdag, 27 November, om 18:00 by Union Olympics Klub in Parkrylaan, St. George’s.

You need to be Logged In to leave a comment.