Plaaslike rofstoeier maak golwe oorsee

,

Tristan Beale (25), ‘n swaargewig-rofstoeier van die Baai is besig om groot golwe in Engeland, Wallis en Skotland te maak.


‘n Jong swaargewig-rofstoeier van die Baai is besig om groot golwe in Engeland, Wallis en Skotland te maak.

Tristan Beale (25) is ondanks sy jeugdige ouderdom egter geen groentjie in die kryt nie.

Hy stoei al vandat hy 15 jaar oud is. Beale, wat van ‘n bekende stoeifamilie kom, sê hy het al 175 beroepsgevegte agter die rug waarvan hy sedert 2023 al 72 keer in die buiteland gestoei het.

“Stoei is my lewe en ek geniet die groot gevegte en ondersteuning in die Britse Eilande.

“Ek toer taamlik gereeld oorsee en beplan om binne die volgende paar maande weer vir verskeie kragmetings oorsee te reis,” sê hy.

Beale, wat ook die Afrika-kampioen is, sê hy het ‘n besliste doelwit in die lewe – en dis om deur te breek tot in die strawwe Amerikaanse reeks waar hy veral die gewilde WWE in die visier het.

“Die WWE is die gewildste en bekendste stoei-organisasie in die wêreld. As jy daar ‘n kontrak kan losslaan is jy ‘n gemaakte mens,” sê hy.

Beale sê hy is beslis deel van die Splash Festival wat op Vrydag 18 April in Gqeberha gaan plaasvind. Daar sal duisende belangstellendes sy uitsonderlike talent kan sien.

Beale se pa, Mark, is reeds jare lank Suid-Afrika se voorste promotor. Tristan sê hy was nog ‘n baba toe sy ouers hom saam na toernooie geneem het.

“Ek onthou egter die aksie baie goed vandat ek ses of sewe jaar oud was,” sê hy.

Mark se broer, Jimmy, het op ‘n tragiese aand in 1993 in die Baai gesterf nadat hy en Mark teen die Van der Westhuizen-broers, Leslie en Trevor, kragte gemeet het.

Jimmy was net 23 jaar oud en het nà die geveg in die kleedkamer inmekaargesak voordat hy later die aand in die hospitaal oorlede is met stoeiers langs sy bed.

Categorised:,

You need to be Logged In to leave a comment.