Sonder om aan ’n muis of ’n sleutelbord van ’n rekenaar te raak, leer kinders die basiese konsepte van kodering.

Met die behulp van legkaartstukke, ’n selfoon met die Tanks-app en beeldherkenning kan gebruikers binne minute die koderingskonsepte baasraak wat rekenaarwetenskapstudente in die eerste ses maande op universiteit leer.

Die Tanks-koderingsprogram het in 2017 as Byron Batteson se honneursprojek by die Nelson Mandela-Universiteit (NMU) ontstaan.

NMU coding

Prof. Jean Greyling van die Nelson Mandela-Universiteit (NMU) se departement rekenaarwetenskap, wys een van die legkaartstukke wat gebruik word om die jeug sonder ’n rekenaar oor kodering te leer. Foto: VERSKAF

Prof. Jean Greyling, wat verbonde is aan die NMU se departement rekenaarwetenskap, sê die meeste leer-koderingsprogramme is van rekenaars afhanklik. Volgens hom dui die statistieke daarop dat 16 000 van die sowat 25 000 skole in die land nie rekenaarlaboratoriums het nie.

“Na raming sal dit R16 miljard kos om dié skole van rekenaars te voorsien en dit gaan waarskynlik nie gebeur nie.

“Ons kan met ’n paar selfone teen R10 000 by skole ingaan en die kinders honger maak vir kodering.”

Gedurende slypskole neem dit sommige leerlinge minder as ’n uur om die eerste paar vlakke van Tanks baas te raak.

Greyling sê daar is altesaam 35 moeilikheidsgraad-vlakke en die meerderheid snap die proses vinnig.

“Die projek is elke keer ’n treffer onder die leerlinge.

“Party leerlinge kan binne 45 minute by vlak 15 uitkom. As hulle eers begin speel, kan hulle nie ophou nie.”

Die projek het reeds sowat 20 000 kinders oor al nege provinsies bereik en internasionale verspreiding wink ook nou. Dit volg nadat Greyling uitgenooi is om aanstaande maand deel te wees van ’n paneelbespreking op die Mobile Learning Week in Parys, Frankryk, wat deur die Verenigde Nasies se opvoedkundige, wetenskaplike en kulturele organisasie Unesco aangebied word.

Volgens Greyling is die fokus van die week op die opvoeding van agtergeblewe gemeenskappe oor die wêreld heen, wat gewoonlik deur sowat 2 000 konferensiegangers van sowat 200 lande bygewoon word.

Hy sal op 2 en 3 Maart deel wees van ’n paneelbespreking waar 1 000 mense na verwagting teenwoordig sal wees.

“Dit is vir ons ’n groot eer en voorreg om deel te wees van die konferensie. Ons hoop om die projek binne die volgende twee jaar verder in Afrika te kan verprei.”

Intussen is nóg twee apps, Boats en Rangers, soortgelyk aan Tanks, ontwerp. Die twee apps werk op dieselfde beginsels as Tanks, maar bied ’n nuwe baadjie plus ’n lewensles aan.

“Met Boats moet die kinders nou ’n boot tot by ’n stuk plastiek in die see kan skuif. Dit leer kinders tegelykertyd oor plastiek-besoedeling in die oseane.

“Rangers behels ’n veldwagter wat by die stroper moet uitkom voordat hy ’n dier stroop. Hiermee word kinders meer ingelig oor die stropingsprobleme in Afrika. Albei apps verskaf brokkies inligting oor twee onderwerpe terwyl die kinders speel.”

Die Tanks-koderingsprogram het reeds verskeie pryse gewen, waarvan een die 2019-Africa Tech Week se naaswenner vir innoverende tegnologie van die jaar insluit.

Vanweë Tanks is Greyling ook onder die professionele lui in die inligtingstegnologie-bedryf (IITPSA) as 2019 se IT-persoonlikheid van die jaar in die Oos-Kaap aangewys.

You need to be Logged In to leave a comment.