Riley Norton is gekies as die kaptein van die Junior Bokke vir die o. 20 Wêreldbeker later vandeesmaand in Italië.
Riley Norton is gekies as die kaptein van die Junior Bokke vir die Wêreldrugby o. 20-kampioenskap later vandeesmaand in Italië.

Junior Springbok-hoofafrigter, Kevin Foote, het vyf spelers ingesluit wat vir die tweede keer aan die Wêreldrugby o.20-kampioenskap in Italië sal deelneem, met slot Riley Norton wat as kaptein behou word vir die toernooi wat vanaf 29 Junie tot 19 Julie sal plaasvind.

Phiwayinkosi Kubheka (stut) en Ian van der Merwe (losskakel) het nog nie voorheen vir die SA o. 20’s gespeel nie, terwyl Jaco Grobbelaar (slot), Stephanus Linde (nr. 8) en Jaco Williams (agterspeler) terug in die span is nadat hulle die onlangse o. 20-Rugbykampioenskap in Gqeberha gemis het.

Kubheka het verlede jaar vir die SA o. 18’s gespeel en Van der Merwe in 2023, terwyl Linde vroeër vanjaar met die Junior Bokke na Georgië getoer het voordat hy ’n besering opgedoen het wat hom uit die Rugbykampioenskap gelaat het. Grobbelaar en Williams was betrokke by die Verenigde Rugbykampioenskap-spanne van onderskeidelik die Vodacom Bulls en Hollywoodbets Sharks.

Grobbelaar is een van die vyf spelers wat terugkeer vir ’n tweede Wêreldrugby-kampioenskap deelname, saam met veelsydige voorspeler Bathobele Hlekani, stut Herman Lubbe, losvoorspeler Wandile Mlaba en skrumskakel Haashim Pead.

Verder is ses spelers wat nog o. 19 is in die span ingesluit, wat belowend is vir volgende seisoen. Hulle is Kubheka en sy mede-stut Oliver Reid, Siphosethu Mnebelele (haker), Norton (slot), Vusi Moyo (losskakel), en Cheswill Jooste (agterspeler).

Volgens Foote was die finale seleksieproses ’n baie moeilike taak en hy en die afrigtingspan is baie tevrede met die finale groep.

“Die ouens was almal uitstekend in hul houding en toewyding en die meeste van die groep is sedert November verlede jaar saam, toe die SA o. 19 Akademie-program in Stellenbosch begin het,” het Foote gesê.

“Ek wil elke speler wat deel van die verskeie oefengroepe was, bedank vir hul ongelooflike insette. Die skole en provinsiale unies verdien ook enorme erkenning vir die manier waarop hulle ons spelers voorberei het.”

Die oefengroep van 37 spelers is verminder tot die amptelike spangrootte van 30 spelers wat Suid-Afrika vanaf die einde van die maand sal verteenwoordig teen die beste o. 20-spelers in wêreldrugby.

“Ons het ’n goeie groep spelers gekies wat vasbeslote is om die land trots te maak met hul vertonings op die veld en hul gedrag van die veld af,” het Foote gesê.

“Dit was ’n ontsettend moeilike taak om die groep tot 30 spelers te verminder en ons voel almal vir daardie ouens wat nie die finale seleksie gehaal het nie.

“Geluk aan die 30 wat gekies is; watter eer om jou land teen die bestes in die wêreld te verteenwoordig.”

Die span sal voortgaan met hul voorbereiding in Stellenbosch tot hul vertrek na Italië op 24 Junie. Die Junior Bokke begin hul veldtog in Italië op 29 Junie teen Australië in Calvisano, voordat hulle dit op 4 Julie in Rovigo teen Engeland te staan kom, en hul finale poelwedstryd is op 9 Julie teen Skotland, ook in Calvisano.

Junior Springbok-span:

Stutte: Jean Erasmus (Vodacom Bulle), Phiwayinkosi “Rambo” Kubheka (Hollywoodbets Haaie), Herman Lubbe (DHL Westelike Provinsie), Simphiwe Ngobese (Hollywoodbets Haaie), Oliver Reid (DHL Westelike Provinsie).

Hakers: Siphosethu Mnebelele (Vodacom Bulle), Jaundré Schoeman (Vodacom Bulle).

Slotte: Jaco Grobbelaar (Vodacom Bulle), Riley Norton (kaptein, DHL Westelike Provinsie), JJ Theron (Vodacom Bulle), Morné Venter (Fidelity ADT Leeus).

Losvoorspelers: Thando Biyela (Fidelity ADT Leeus), Bathobele Hlekani (Hollywoodbets Haaie), Wandile Mlaba (DHL Westelike Provinsie), Xola Nyali (DHL Westelike Provinsie), Matt Romao (Hollywoodbets Haaie), Stephanus Linde (Toyota Cheetahs).

Skrumskakels: Ceano Everson (Hollywoodbets Haaie), Haashim Pead (Fidelity ADT Leeus), Erich Visser (Toyota Cheetahs).

Losskakels: Vusi Moyo (Hollywoodbets Haaie), Ian van der Merwe (Vodacom Bulle).

Senters: Albie Bester (Hollywoodbets Haaie), Gino Cupido (DHL Westelike Provinsie), Demitre Erasmus (Vodacom Bulle), Dominic Malgas (DHL Westelike Provinsie).

Agterspelers: Cheswill Jooste (Vodacom Bulle), Gilermo Mentoe (Fidelity ADT Leeus), Siya Ndlozi (DHL Westelike Provinsie), Jaco Williams (Hollywoodbets Haaie).

Suid-Afrika se Groep A-wedstrydbepalings:

Sondag, 29 Junie: Junior Bokke vs Australië o. 20 – Stadio San Michele (Calvisano)
Vrydag, 4 Julie: Junior Bokke vs Engeland o. 20 – Stadio Mario Battaglini (Rovigo)
Woensdag, 9 Julie: Junior Bokke vs Skotland o. 20 – Stadio San Michele (Calvisano)

Uitspelwedstryde:

Maandag, 14 Julie: Halfeindrondes (Verona en Viadana)
Saterdag, 19 Julie: Finale en rangskikkingswedstryde (Calvisano en Rovigo)

You need to be Logged In to leave a comment.