SA president Nelson Mandela congratulates Springbok skipper François Pienaar after handing him the William Webb Ellis trophy on 24 June 1995. PHOTO: Jean-Pierre Muller / AFP
In die lig van die 30ste herdenking van die Springbokke se eerste Wêreldbeker-sege van 1995, sal die SAUK die toets tussen Italië en die Springbokke regstreeks uitsaai. FOTO: Jean-Pierre Muller / AFP

Dit was gister, Dinsdag 24 Junie, presies 30 jaar gelede dat Suid-Afrika vir die eerste keer die Wêreldbeker-rugbytoernooi op Ellispark in Johannesburg gewen het. Verskeie van vandag se Springbokke was in daardie stadium nog nie eens gebore nie. Om ‘n blik te kry op hierdie geskiedkundige wedstryd, kan ‘n mens gerus lees hoe die destydse Springbokkaptein, Francois Pienaar dit in sy boek Aan die einde van die reënboog beskryf:

Ongeveer 10 voor 3 lei ek die Springbokspan op die veld, en ‘n stadion vol mense wat dankbaar was dat hulle daar kon wees, het ontplof. Ek het emosioneel gevoel, maar was goed gefokus. Ek was op die rand van trane want ek wou bars van nasietrots.

Die bekendstelling van president Mandela aan die twee spanne het in ‘n waas verbygeflits, en ek het besluit om nie die volkslied te sing toe dit gespeel is nie, want ek was bang ek bars in trane uit. Ek het Nerine, my verloofde, se gesig in die skare gesoek en my kake opmekaar geklem in ‘n poging om meester van myself te bly.

Einde ten laaste het die wedstryd begin …

Die All Blacks het ‘n vlak afskop probeer, maar dit verbrou. Joel en Jooste haal albei nie die kantlyn met buiteskoppe nie. Dis ‘n senuweeagtige wegspring deur albei kante.

Andrew Mehrtens en Joel skop elk ‘n strafdoel. Na 12 minute span die All Blacks vir Jonah Lomu in wat toe om die senter boog en in die middel opstorm. Ek wou dolgraag die eerste Springbok wees wat hom aarde toe bring, maar hy’s verby en dis Jooste wat laag buk en sorg dat die yslike vleuel neerstort. Ons staan egter ‘n strafskop af en Mehrtens slaag, wat die All Blacks met 6-3 laat voorloop.

Ek is tevrede met hoe ons speel. Ons beweeg vorentoe en behou lang rukke besit. Mark Andrews dra die bal vorentoe, Joost hardloop ‘n ent, Ruben neem die bal en storm na die lyn. Dis ‘n drie! Geen drie nie. Ed Morrison (skeidsregter) sê dis nie ‘n drie nie.

Die All Blacks trek die volgende skrum af en Joel voeg nog drie punte by: 6-6.

Joel slaag met ‘n skepdoel en ons is 9-6 voor.

Springbok kaptein Francois Pienaar, hou die Web Ellis-trofee hier omhoog nadat die Springbokke die Wêreldbeker gewen het op 24 Junie 1995. FOTO: Vincent Amalvy / AFP

Joost is lewendig, wakker en dreigend, en kan enige oomblik met iets onverwags vorendag kom. Ons begin vorentoe beweeg, maar moet van voor af skrum, en die rustydfluitjie knip ons poging kort. Ek is teleurgesteld, want ons het twee gulde geleenthede deur ons vingers laat glip.

Met rustyd omarm ons mekaar om ‘n hegte kring te vorm en ek sê vir die ouens ons is op die regte spoor. Ons skrum uitstekend. Ons moet net geen onnosel foute maak nie…

In die tweede helfte word dit duidelik dat hulle Lomu meer dikwels by die spel wil betrek. Osborne sluit by die agterlyn aan en gee vir Lomu, wat in André Joubert se rigting versnel. Die skare snak na asem. Hy is in volle vaart na die doellyn op pad. Japie Mulder beweeg sywaarts, haal hom in en voer een van die beste duikslae van alle tye uit.

Toe ons senter opstaan, druk hy Lomu se gesig teen die grond vas as voorbeeld van die groep se gees en vasberadenheid.

Die tweede helfte duur voort en die All Blacks word sterker. Mehrtens maak die telling met 9-9 gelyk. Die tyd raak min en dis steeds 9-9. Behou daardie dissipline, manne.

Ons skrum staan nog stewig, en dit regverdig Kitch Christie se dapper besluit om Kobus Wiese op slot in te span en Mark Andrews op agsteman.

Nog 2 minute oor. Die All Blacks val aan en Mehrtens kry geleentheid om die wenskepdoel aan te teken, maar dis mis. Dit was ‘n verpeelde kans. Almal besef dit. Dalk is dit ons gelukkige dag.

Tyd verstreke. Gelykop 9-9. Aan die einde van ‘n lang, uitmergelende toernooi is albei spanne uitgeput. Ek sê die spelers moet om hulle kyk na die vlae wat wapper en die mense wat op ons staatmaak. Ons moet vir hulle speel en die nuwe wêreldkampioen word.

Die All Blacks begin weer basiese rugby speel en Mehrtens skop ‘n lang strafdoel wat hulle met 12-9 laat voorloop. Ons waag dit steeds om aan te val en die wedstryd so te probeer wen. Na vyf minute van bykomende tyd kry Chester Williams die bal diep binne ons halfgebied en voer ‘n teenaanval uit. Joost kry die bal aan die steelkant en gee na Joel. Hy’s los deur! Hy gaan druk!

Vorentoe aangee. Ed Morrison blaas die fluitjie vir ‘n All Black-skrum, en dis heeltemal korrek. Dit was vorentoe.

Oomblikke later wys die skeidsregter weer sy staal. Joel skop hoog in die lug op en die All Blacks is onkant. Joel slaag met die strafskop en dis weer met 12-12 gelykop.

In die tweede helfte van bykomende tyd besef ek skielik dat ek ‘n kuitspier in my linkerbeen verrrek het. Dis seer, maar ek vra nie vir behandeling nie, want ek is bang hulle gaan my van die veld neem. Ons skop weer op hul agterste drie, Osborne loop hom in ons verdedigingsnet vas en ons kry ‘n skrum in ‘n aanvallende posisie. Ek beveel ‘n steelkantbeweging van waar ons ‘n stewige voorspelerplatform kan bou. Die skrum draai en ons moet weer sak. Op losskakel kanselleer Joel my roep. Hy sê hy wil die bal onmiddellik hê.

Joost gee uit, Joel vang en skop ‘n volmaakte skepdoel. Dit trek hoër is as die regoppale. Ons loop met 15-12 voor. Ek begin vir die manne skree: Nou bly ons in hulle halfgebied! As ons die bal kry, skop ons dit soontoe, en ons bly daar.”

Die stadion gons. Asseblief geen foute nie. Die minute tik af. Met twee minute oor kry ons nog ‘n strafskop, maar Joel se skop trek regs verby. Staan vas. Ná die inskop is daar ‘n losgemaal. Die skrum word aan ons toegeken ons staan weer stewig.

Ek kyk hoe die skeidsregter die fluitjie na sy mond toe bring. Hy blaas die eindfluitjie, en ons lewe verander vir ewig. Ons is die wêreldkampioen.

  • Hierdie is ‘n geredigeerde uittreksel uit  Pienaar se outobiografie wat in samewerking met Edward Griffiths geskryf is. Die Afrikaanse uitgawe is in 1999 deur Human&Rousseau uitgegee.

You need to be Logged In to leave a comment.